SANZAR: FRANS STEYN EN JANNIE LUBBE WAS VERKEERD #PaleToe

Apr 3 • General News, Pale Toe • 3599 Views • Comments Off on SANZAR: FRANS STEYN EN JANNIE LUBBE WAS VERKEERD #PaleToe

Artikel: Simon Riekert

Foto: @HowzitJax

# Pale toe

 IMG_8172

“Hierdie appèl is niks vreemds in ʼn regsproses nie, en Jannie Lubbe was voorsitter van ʼn regsproses. Dit is ook ʼn logiese proses in die bestuur van rugbyreëls, want daar is onsekerheid oor die toepassing van getuienis waarby vier spelers by betrokke is.”- André Watson Bestuurder SA Skeidsregters

 

Kyk, die boorvat op enige speler het al meer tonge los gehad op sosiale media en rondom die braaivleisvure as wat ʼn paar slukke 10-jaaroud KWV kon doen.

Noem jy vandeesweek die woorde “Frans Steyn, Sharks en rooi kaart” (nie noodwendig in daardie volgorde nie), en dis gewaarborg dat iemand anders die braaiwerk sal moet doen.

“Lifting a player from the ground and dropping or driving that player into the ground whilst that player’s feet are still off the ground such that the player’s head and/or upper body come into contact with the ground is dangerous play. Law 10.4 (j)”

So staan hy geskryf in die IRB se reëlboek en vroeër het Jannie Lubbe, voorsitter van die Geregtelike Komitee wat sy uitwysing aangehoor het, besluit Steyn is onskuldig nadat hy deur Angus Gardner in die wedstryd teen die Chiefs afgejaag is.

SANZAR het vandeesweek een van die mees onverwagte besluite geneem, naamlik om teen een van sy paneel se eie bevindings te appelleer. Stephen Cottrell, regsverteenwoordiger van Brad Thorn wie John Smit in die Drienasies wedstryd in 2008 sonder die bal geloop het, sal namens SANZAR verskyn in die appélverhoor.

Destyds het Cottrell vir Thorn ʼn week se skorsing beding gedurende die verhoor en toe reeds was daar ongelukkigheid oor die sogenaamde dubbele standaarde van die verhoorbeamptes.

In 2011 het Greg Peters, die Hoof Uitvoerende Beampte van SANZAR, na groot plaaslike ontevredenheid oor konsekwentheid, vure probeer doodslaan.

“It would be fair to say we are not happy yet with the disparities between penalties for what is ostensibly the same offences”, het hy toe aan joernaliste gesê.

Reeds in daardie tyd het hy erken dat die “as a result of disparity between penalties…more consistency in the entire judicial process” sou kom.

Die twee Suid-Afrikaners op die paneel Jannie Lubbe en Peter Ingwersen het toe reeds berug geraak toe hulle die Waratahs se slot Kane Douglas en die Sharks se flank Jean Deysel onderskeidelik twee weke geskors het vir dieselfde uitwysing in terme van reël 10.4 (e), naamlik die gevaarlike kontak met ʼn speler bokant die skouers en rondom die nek.

Michael Rhodes is vir dieselfde oortreding deur Nick Davidson van Nieu Seeland, twee maande lank geskors.

Volgens Peters moet die verhoorbeamptes na ʼn verskeidenheid faktore kyk alvorens ʼn straf uitgemeet word wat insluit die speler se rekord, gedrag, ouderdom en berouvollheid.

SANZAR appelleer nou teen een van sy eie, kontroversiële paneellede, Jannie Lubbe se uitsprake nadat Frans Steyn vrygespreek is op ʼn aanklag van ʼn boorvat op Aaron Cruden in ʼn wedstryd teen die Sharks en die Chiefs.

Lubbe is ʼn senior advokaat en is een van die eerste beamptes wat deur SANZAR op die tugpaneel aangestel is. Hy het ʼn jarelange verbintenis met tugverhore in sport en het benewens sy werk op die SANZAR paneel, ook verhore vir Atletiek SA hanteer.

Dit is te wagte dat ʼn man met sy ervaring die versigtigheidsreëls in die oorweging van getuienis reg sal toepas.

Laat vandeesweek het SANZAR van hom laat hoor met ʼn verduidelikende verklaring waarin die redes vir hul “ongewone en uitsonderlike optrede” verduidelik word.

Volgens SANZAR het Lubbe beslis daar was geen vuilspel by die duikslag teen Cruden betrokke nie. Reël 10.4 van die IRB se spelreëls is dus nie oortree nie.

Hy motiveer sy bevinding deur te verwys na Christo Reinach en Ryan Kankowski se bind met Cruden gedurende die duikslag. Beide spelers was gebind om die lyf van Cruden alhoewel Steyn die eerste speler was wat kontak gemaak het in die duikslag.

Lubbe argumenteer dat om hierdie rede alleen, Steyn nie die enigste was wat “verantwoordelik was vir die boorvat nie.”

Dit het beteken Steyn het skotvry van die voorval afgekom en sy tugrekord is skoongevee.

Nee, sê SANZAR, Lubbe was verkeerd. Hy het verkeerd geredeneer nadat hy getuienis oorweeg het en hierdie uitspraak kan regstegnies beteken dat dieselfde verkeerde beslissings in die toekoms gemaak kan word.

André Watson, grootbaas van skeidsregters in Suid-Afrika stem saam met SANZAR.

“Hierdie appèl is niks vreemds in ʼn regsproses nie, en Jannie Lubbe was voorsitter van ʼn regsproses. Dit is ook ʼn logiese proses in die bestuur van rugbyreëls, want daar is onsekerheid oor die toepassing van getuienis waarby vier spelers by betrokke is.

“Daar behoort geen renons te wees in die besluit van SANZAR nie, want net soos in ʼn hofsaak, kan enige party teen ʼn uitspraak appelleer.

“Dit sal regsekerheid bring in die toepassing van die reëls en geen skuiwergate laat nie.

“Wêreldrugby (die ou IRB) se reël 17 sê dat die organiseerder van ʼn toernooi appèl mag aanteken binne sekere riglyne en vereistes.

“Dit mag beteken dat iemand eier op sy gesig gaan kry, maar dis ʼn goeie ding dat ons sekerheid oor hierdie aspek van die spel kry”, het Watson gesê.

SANZAR sien boorvatte as ʼn euwel wat by rugby insluip en meen dat Lubbe se oorspronklike beslissing twyfel sou laat ontstaan oor die manier waarop boorvatte beoordeel sal word. Die veiligheid van spelers bly vir SANZAR die grootste oorweging.

“ Dis baie duidelik vir my dat Jannie Lubbe gefouteer het met die beslissing”, het die gewese bestuurder van die Bulls, Wynie Strydom aan Pale Toe! gesê.

“Frans was die oortreder en die feit dat Reinach en Kankowski by die duikslag betrokke was, behoort hom nie van die blaam te onthef nie. Hulle het nie die boorvat uitgevoer nie, Frans het.”

Wynie het dit ook duidelik gemaak dat spelers, afrigters en toeskouers vra vir konsekwentheid in die toepassing van reëls.

“Ons het destyds met JP Nel gesukkel met paneellede se konsekwentheid. Toe was Dekker Govender die tugbeampte in sy saak. JP is uiteindelik Japan toe omdat hy moedeloos was oor die uitsprake van tugbeamptes. Ek en Bakkies Botha het dieselfde paadjie geloop toe hy ʼn paar keer uitgewys was. Dis tyd dat SANZAR optree.”

Sharks ondersteuners voel dis onnodig dat daar teen Steyn se uitspraak geappelleer word. Só het Bulls ondersteuners destyds oor Bakkies en JP gevoel.

Wat ook al die ondersteuners se mening, die Sharks het tot met die aanbreek van die tugverhoor nie ʼn woord gerep oor die saak nie.

SANZAR se appélverhoor het Vrydag 3 April plaasgevind en die uitspraak word afgewag.

Wat van Jannie Lubbe gaan word indien SANZAR slaag met sy appèl, is onduidelik.

Tyd sal leer, maar boorvatte sal nooit weer dieselfde wees nie.

 

Related Posts

« »