DIE SPRINGBOKKE EN DIE VURK IN DIE PAD #PaleToe

Oct 7 • General News, International, Pale Toe, Rugby World Cup, RWC 2015, World Rugby • 2074 Views • Comments Off on DIE SPRINGBOKKE EN DIE VURK IN DIE PAD #PaleToe

Simon Riekert van #Pale Toe! meen die VSA staan tussen die Bokke en die vurk in die pad: die een ʼn pad van potensiële glorie en die ander ʼn pad van skaamte.

 

Daar bly een hekkie oor vir die Springbokspan in vanjaar se uitspeelrondtes, en gedagtig daaraan is die einste span vir sy eie benoudheid verantwoordelik. As is verbrande hout, maar “as” hulle nie teen Japan in die hek geduik het nie, was die nerwe nou minder dun.

Die VSA staan tussen die Bokke en die vurk in die pad: die een ʼn pad van potensiële glorie en die ander ʼn pad van skaamte. Geen wonder dat die konserwatiewe afrigter van die span, Heyneke Meyer ʼn volstrekte span vir die kragmeting gekies het nie want, al is die waarskynlikheid groot dat die Bokke sal wen, het Meyer se span hom gruwelik in die steek gelaat drie weke gelede teen die Japanners.

“Jy maak jou broek vas met ʼn belt en kruisbande”, het Meyer destyds gesê oor spankeuses toe hy nog Blou Bul afrigter was.

Oud spelers verskil oor Meyer se span, wat te wagte is. Joel Stransky meen dat Meyer meer moes waag met Trevor Nyakane, Siya Kolisi en Willem Alberts. Butch James, voormalige Bok-losskakel meen weer dis die beste span wat Meyer kon kies, en met insluitings soos Frans Malherbe en Lwazi Mvovo word die span eerder versterk.

Ons meen dat daar vyf baie belangrike faktore ter sparake is voor, gedurende en na hierdie wedstryd vanaand:

 

  1. Die vurk in die pad

 

Die Bokkaptein, Fourie du Preez het op ʼn mediakonferensie dit in soveel woorde gesê: “dis maklik, of ons wen of ons gaan huistoe”. Die span kan nie kla oor hul selfopgelegde ultimatum nie, want ʼn verloor teen Japan, maak die “sewe wenne in sewe wedstryde”- teorie van die afrigter ongedaan.

“Ons het massiewe, massiewe druk gehad hierdie afgelope twee weke, die druk is nog steeds op ons, en as ons nie môre (vandag, Woensdag) wen nie, is ons uit die toernooi. Ons het die druk self opgelê en ten minste weet ons wat suksesvol vir ons is en hoe ons wil speel,” het Du Preez gesê.

“Ons moet die skroef aandraai. Die manne moet in daardie desperate bui bly en na Woensdag kan ons hopelik bietjie ontspan en op die volgende fase konsentreer, maar vir nou is dit net hierdie wedstryd wat belangrik is.”

 

 

  1. Dissipline

 

Voor die Bokke se vertrek na Engeland, was hierdie aspek en die span se fiksheid, van Meyer se grootste bekommernisse.

Die span het reeds 38 strafskoppe opgehoop in drie wedstryde; 12 teen Japan, 11 teen Samoa en 15 teen Skotland.

Jannie du Plessis het die Bokke se eerste geel kaart ontvang in die 36ste minuut teen Skotland vir ʼn skouerloop.

Dit kan die Bokke ʼn wedstryd kos, “goeie dissipline is ononderhandelbaar, jy kan nie met 14 manne speel nie, dis onaanvaarbaar en ek is reg om ʼn paar ongewilde besluite te neem” het Meyer aan ʼn groep persmanne na die Skotse wedstryd gesê.

“Dis die verskil in ʼn eindstryd, een strafskop en drie punte”.

 

  1. Taktiese skopwerk

 

Alhoewel Handré Pollard een van die beste stelskoppers by die toernooi word, laat hy en sy span se taktiese skopwerk veel te wense oor. In die drie Wêreldbeker wedstryde het die Springbokke 58 keer geskop waar balbesit óf weggeskop is óf waar lynskoppe onsuksesvol was.

JP Pietersen se doellose skop in die 62e minuut uit ʼn onverwagse losskakel posisie teen Skotland, terwyl die Bokke op die aanval was, is een so ʼn voorbeeld.

“Taktiese skopwerk kry beslis aandag en ons verloor heeltemal te veel besit met doellose skopwerk”, het Meyer na afloop van die laaste wedstryd teen Skotland gesê.

“Ons werk hard daaraan”.

 

  1. Die wedstrydplan

 

Hierdie kritiese aspek het die Bokke die wedstryd teen Japan gekos. Laat ons nou eenmaal maar vrede maak, ons sal nie die tipe spel sien wat Argentinië of Australië onlangs opgedis het in ʼn Boktrui sien nie. Die Springbokke speel eenvoudige, konserwatiewe spel wat Bobby Skinstad só opsom: “ die Bokke stel hul platforms op in die vaste spel, die skrums en lynstane en alhoewel dit stadig en soms verdag voorkom, maar as hulle die vaste fasette oorheers, maak dit goeie kykstof wat daarop volg”.

Verwag dieselfde resep teen die VSA vandag, en indien hul kwalifiseer en uitspeel, dieselfde formule. Dit is die beproefde Springbok resep.

 

  1. Beserings

 

Die stof het nog lank nie gaan lê oor die getal “beseerde” spelers wat saam Wêreldbeker toe is nie. Meyer se hoop was duidelik dat hulle tyd sal hê om genoegsaam te herstel tydens die toernooi, om dan ingesluit te word in ʼn span waar daar elke keer asem opgehou word as ʼn Springbok bly lê.

Jean de Villiers se grootmoedige, maar halsstarrige vasbyt om saam te gaan Engeland toe, is en sal altyd ʼn kontroversie bly. Dieselfde geld vir die insluiting van ʼn “ou” Victor Matfield wat na twee wedstryde nog steeds nie fiks genoeg is vir insluiting nie.

Meyer se waagspel met Fourie du Preez was geslaagd en die steunpilaar van die Bokspan het bewys dat hy kon rehabiliteer gedurende die toernooi. Dit is te wagte dat Meyer vir Matfield in watte toedraai met die oog op die uispeelfases van die kompetisie en dat hy hoop dat spelers soos Duane Vermeulen en Fourie du Preez, wat ʼn reuse verskil in die Springbok spelpatroon maak, hou.

 

Meyer en sy kaptein glo hulle is reg vir die allerbelangrikste wedstryd van die Springbokke se derde aanslag op Wêreldbeker glorie vanaand.

Watter vurk hulle in die pad neem, is net in hulle hande alleen.

Foto: Anton Geyser

Related Posts

« »