DAAR IS MIN TYD OOR VIR DIE SPRINGBOKKE #PaleToe
Simon Riekert van #PaleToe!, skryf vandeesweek:
Fourie du Preez is uiteindelik aangewys as Springbok kaptein. Iets wat hom reeds 2012 toegekom het maar nooit gerealiseer het nie. Hy sou by John Smit oorneem na Meyer se aanstelling, maar dit het nie gebeur nie.
Tyd is ʼn snaakse ding. Dit staan soms stil as dit nie moet nie en laat waai as dit moet stilstaan. Soms is daar oorgenoeg daarvan en soms te min. Tyd wag egter vir niemand nie.
So het kaptein Jean de Villiers agtergekom vandeesweek met sy vroeë vertrek uit die wêreldbeker weens ʼn af kakebeen en so ook het die 38 jarige Victor Matfield besef dat spiere wat uit lit is, ʼn tyd vat om te genees, soveel meer so na ʼn seker ouderdom.
Tyd genees ook. Was die Japanners se verrassende 34-32 oorwinning ʼn bliep op die radarskerm of is dit ʼn hoofpyn in wording? Baie word bespiegel dat die Skotse wedstryd eerskomende Saterdag die werklike toets vir die gehalte van Springbok rugby sal wees en les bes, ʼn toets vir leierskap.
Maar die oorwinning Saterdag teen Samoa was lekker, net op die regte tyd en laat al wat ʼn ondersteuner breëbors rondloop. Als is vergewe, ons speel weer krag rugby, plaas ons lywe op die spel en ons kom met die William Webb-Ellis trofee onder die blad huistoe.
Selfs die Nieu Seelandse pers het die Springbokke as “ferocious off the scale” bestempel.
“South Africa in that form are nearly impossible for any side to contain.”
Dis genesende woorde vir ʼn seer Springbok.
ʼn Kort rukkie voordat die Wêreldbeker begin het, sê Wynie Strydom “ die Bokke kan bekostig om die een teen die Skotte te verloor, dit sal ons goed pas in die kwarteind waar ons eers die All Blacks kan ontglip.”
Maar wie het ooit in tyd kon vooruit sien dat die Bokke se senior skrumskakel, Fourie du Preez se woorde van waarskuwing oor Japan op dowe ore sou val? Skielik is Meyer se beplanning in chaos. Hy slaap vir drie dae nie, want hy weet dat nog een glips beteken dat die Bokke teen volgende Donderdag op pad terug is OR Tambo lughawe toe, sonder ʼn Fikile Mbalula.
“Dis tyd om die Jean de Villiers hoofstuk af te sluit,” sê Naas Botha vroeër vandeesweek.
“Meyer moet ʼn senterpaar op vorm kies, en as jy ʼn span het met ʼn goeie kaptein daarin, is dit ʼn bonus”.
Dis heeltemal teenstrydig met wat drie weke gelede gebeur het, en totdat hy eendag sy memoires skryf, kan ons maar net bespiegel hoekom hy met ʼn halwe Jean de Villiers volhard het.
Intussen het die wiel van die tyd gunstig gedraai vir die stil, ingetoë skrumskakel met ʼn analitiese rugbybrein.
Fourie du Preez is uiteindelik aangewys as Springbok kaptein. Iets wat hom reeds 2012 toegekom het maar nooit gerealiseer het nie. Hy sou by John Smit oorneem na Meyer se aanstelling, maar dit het nie gebeur nie. Weereens is dit een van die gesprekke wat sal moet oorbly tot Meyer vry is om daaroor te praat, want kort daarna is Fourie Japan toe en Jean de Villiers is bevestig as kaptein. Schalk Burger was beseer en Matfield het uitgetree. De Villiers was die logiese keuse.
Twee groot insidente het aanleiding gegee tot Meyer se besluit om dit wat hy in 2012 wou doen, nou te doen. Die eerste was die uitval met sy senior spelers oor die speelpatroon teen die Japannese en die tweede was die ontydige vertrek van Jean de Villiers. Skielik was Meyer gekonfronteer met ʼn posisionele probleem en ʼn leierskap dilemma.
Meyer was skielik weer terug in tyd, in 2012 waar hy Fourie du Preez sou aanstel as ʼn verlengstuk van homself op die veld: sy kaptein.
Dis algemene kennis dat Fourie en Meyer mekaar sedert die skrumskakel se O-19 speeldae by die Bulle ken. Dis dus logies dat, soos dinge tans uitwerk by die Springbokke, hy du Preez sou kies.
Daarop is Fourie du Preez in Heyneke Meyer se oë ʼn taktiese genie, ʼn man wat soos ʼn generaal dikteer sonder dat hy te veel praat.
Eweneens was die einste du Preez in ‘n wedloop teen tyd gewikkel met ʼn chroniese beenbesering. Hy was ampertjies nie by vanjaar se Wêreldbeker nie.
Manne wat saam met die Bokke toer meen daar is sedertdien ʼn ander gees wat by die Bokke heers; min tyd vir grappies, maar dit lyk na ʼn gelukkige span.
So speel tyd sy eie speletjie met kapteins en afrigters, want dis nie toevallig nie dat Jake White, wie die Springbokke in 2007 na die wêreldkroon gebrei het, vroeg in 2004 reeds in onderhandelings was met John Smit as sy kaptein. White en Smit het voortgegaan om die Springbok se eer te herstel nadat die span in 2003 se Wêreldbeker by die kwarteindrondte uitgeskakel is deur ʼn begeesterde All Black span (29-9).
“John is die verlengstuk van my as afrigter op die veld”, het White destyds gesê.
Vandag 11 jaar later herhaal dit homself: “hy moet ʼn verlengstuk van my op die veld wees”, sê Heyneke Meyer oor Fourie du Preez.
De ja vu.
Miskien som John Smit se woorde dit op oor hoe belangrik dit is om ʼn gelukkige span te wees: “mense ondersteun die Bokke omdat hulle trots is op hulle land, omdat ons kampioene is in ʼn Boktrui, en hul emosies word bevredig elke keer as die Bokke wen. As jy nie daardie emosie bevredig nie, word dit ʼn tweesnydende swaard.”
Meyer, sy span en sy kaptein weet hoe belangrik die aanloop tot die Wêreldbeker toernooi was. Dit het ampertjies verongeluk weens verskeie redes waarvan ego’s nie uitgesluit is nie.
Die tyd vir aanhou wen, is nou.
Foto: Anton Geyser
Related Posts
« New captain to lead the Lions u19’s Cheika confrims bench for England match at Twickenham »