DAAR IS NIKS SOOS VOORGEVOEL NIE, VERAL NIE BY DIE BULLE NIE #PaleToe

Dec 1 • General News, Super Rugby • 2584 Views • Comments Off on DAAR IS NIKS SOOS VOORGEVOEL NIE, VERAL NIE BY DIE BULLE NIE #PaleToe

Simon Riekert van #PaleToe! sê hy het ʼn voorgevoel gehad oor Adriaan Strauss by laasweek se Bulls 2016 trui-bekendstelling. Hier is sy storie.

Een ding is ons eens in die media, daar is geen ander Suid Afrikaanse rugby-franchise wat so ʼn ophef maak van hul Superrugby span nie. Dit begin gewoonlik hier aan November se einde en vanjaar was dit weer so. Inderdaad ʼn media skouspel, wat ʼn groot deel uitmaak van hoe die Blou Bul brand bemark word, want ondersteuners van hierdie span kry jy landswyd en wêreldwyd.
Die uitnodiging om die bekendstelling van hul Superrugby-trui mee te maak, skep ook die geleentheid om met spelers en administrateurs skouers te skuur en om rondom ʼn limonadetjie of twee die vrae te vra wat soms gedurende die seisoen agterwee bly.
Die hele boksemdais was daar; die administrateurs, die Bulls-Babes, die afrigters, die borge, die Raad met sy HUB en die man wat die nuwe kapteinskap sou oorneem, wie ons nog nie geweet het wie dit is nie.
By so ʼn geleentheid kan jy ʼn ou nuushonde ’n myl vêr sien; saamgedrom in ʼn laertjie, iets koud in die hand en al redenerend besig om kollegas se menings oor dit en dat te kry. Miskien ʼn opkomende storielyn wat getoets word, miskien besig om spelers en beamptes se lyftaal te toets.
Die toesprake begin, Nollis antwoord ʼn paar vrae: “ons is seker dat die spel gaan ontwikkel binne die volgende drie jaar en ons beplan daarvoor en ek is seker die ondersteuners gaan opgewonde wees oor hoe ons speel.
“Volgende jaar gaan ʼn spesiale jaar vir die Bulls wees, ons het reeds gewys hoe ons gaan speel tydens die Curriebeker, mense moet kom rugby kyk.”
Dan is dit die beurt van Barend van Graan, Hoof Uitvoerende Beampte van die Blou Bulle Maatskappy: “dames en here, staan so ʼn oomblik stil en neem die atmosfeer, geskiedenis en passie van Loftus Versveld in, want ons kry nie baie die geleentheid om dit so te doen op ʼn mooi aand soos vanaand nie.
Hy bedank die media, borge, die ondersteuners en die truie se borg, Puma. Barend is uitgevat in ʼn spierwit flenniebroek, ʼn rondekraag wit hemp en ʼn Japanese Panama-hoed.
“He looks the part”, sê iemand naby ons.
So word daar gewag op die groot fanfare, en kort voor lank was dit so: Babes, beligting, balle en Bulle borrel saam uit die splerstonnel en neem stelling in voor die kameras.
Dit lyk goed. Die truie sal weer die tonge los hê, maar hier voor ons staan die kern van die Bulls-groep wat Loftus weer Fort Loftus wil maak.
My oog vang die Curriebeker-kaptein, Lappies Labuschagne. Hy lyk frisser, uitgerus, gereed. Maar is hy Nollis se Superrugby-kaptein? Kollega Koos en ek het sowat ʼn anderhalfuur gelede juis gestaan en bespiegel: Lappies of Adriaan?
My voorgevoel was Adriaan. “Nollis het sy eie dinge wat in sy kop aangaan”, sê Koos.
Iets in my het geweet dat hy die uitverkorene is. Sy manier van praat, sy leierskap wat uitstraal, sy komkommer-koel kop. Dis ʼn kaptein, en dan kan hy nog boonop Ingels praat.
“Ek het persoonlik baie geleer by die Wêreldbeker-toernooi, al het ons dit nie gewen nie, daar is altyd ruimte vir groei as mens en as speler, ons moet bybly by die spel en ons moet weet dat ons moet aanpas in wêreld rugby, ek het daar geleer om druk te verwerk.
“Coach Heyneke Meyer het my tande geslyp in Superrugby hier by die Bulls en dit was weer net ʼn voorreg om die laaste paar jaar saam met hom te speel by die Bokke. Hy het my geleer om in myself te glo en om visie te hê vir myself en my spel.
“Dis ʼn groot voorreg as hulle my sou kies as kaptein en leier en ek sal die verantwoordelikheid dra. Ek speel beter as daar verantwoordelikheid op my skouers is en die druk bring die beste in my uit, ek glo in die span en die span kom eerste maak nie saak wat nie.
“Ek sal dit doen vir die span.”
Ek sal weer met die man praat, noodwendig omdat hy kaptein is, maar ook omdat hy oorvat by die franchise by manne soos Joost van der Westhuizen, Ruben Kruger en Victor Matfield.
Later die aand draai ek by Barend van Graan en praat met hom oor die Bulls.
Maar dit, en die feit dat my voorgevoel as ou nuushond reg was, is ʼn storie vir ʼn ander keer.

Related Posts

« »