DIE SKRUMS BLY MAAR ‘N BÔKKEROP #PaleToe

May 2 • General News, Pale Toe • 1944 Views • Comments Off on DIE SKRUMS BLY MAAR ‘N BÔKKEROP #PaleToe

Artikel deur Simon Riekert  #Pale toe!

 

Rob Louw, voormalige WP losvoorspeler twiet verlede week: “ I see Ludeke not happy with scrums and penalties! Agree! But remember the Soweto final the scrum? 12 points given to the Bulls”

 

Dié kommentaar van Louw is na aanleiding van Frans Ludeke, Bulls afrigter se woorde na afloop van Saterdag se wedstryd teen die Stormers op Nuweland, “die span sal moet verantwoordelikheid neem in die skrums, dit is te veel van ʼn grys gebied, daar is sekere kwessies wat ons kan oplos, maar die skrums is nie ideaal nie.

In 2010 was Schalk Burger en die Stormers se afrigter Alister Coetzee byna in groot moeilikheid nadat hulle Joubert se beslissings bevraagteken het. SANZAR het oorweeg om dissiplinêr teen hulle op te tree na hul opmerkings dat die strafskop telling die uitslag bepaal het. Burger was ontevrede oor “twee stelle reëls by die afbreekpunte” en Coetzee het gesê dit het sy span die wedstryd gekos. 

Andre Watson, SA-skeidsregtersbaas het nadat hy ʼn video van die wedstryd ontleed het, bevind dat Joubert “meer as wat dit nodig was regverdig was in sy hantering van die wedstryd”. In die wedstryd het die Stormers die bal 85 keer gedra en die Bulls het dit 82 keer ingedra waar of ʼn losgemaal begin het of die bal draer in besit betrap is. Sewe strafskoppe is na die Stormers se kant toe, terwyl die Bulls ses ontvang het. Die skeidsregter het 25 keer met die Stormers gepraat en 28 keer met die Bulls sonder om ʼn waarskuwing ooit te herhaal. 

Die statistieke dui dus op ʼn ander prentjie waarop Burger, Coetzee toe reageer het.

Louw se opmerking oor die twaalf gelukkige punte vir die Bulls in die 2010-eidstryd en dat die Wêreldbeker vanjaar deur lynstane en skrums bepaal sal word, is pure wensdinkery, of is dit dalk nie?

Ja, die Bulls se skrums het gelol. Ja, Dean Greyling se akkuraatheid in die skrum en van die bal af, laat die laaste ruk veel te wense oor, maar tog hou spelers en afrigters lank reeds asem op by elke skrum omdat beslissing enige kant toe kan gaan.

Die afgelope paar jaar of wat word baie skeptiese vrae gevra oor die skeidsregters se vermoë om die skrumreëls reg te interpreteer.

Reël 20 van die oud-IRB se reëlboek definieer die doel van ʼn skrum as dat dit spel vinnig, veilig en regverdig moet her begin na ʼn minderwaardige insident of gebeurtenis in die spel, maar ons weet dit gebeur nie.

Baie min skeidsregters weeg 120kg of meer, of is langer as 1,95m en dra ʼn nommer 14 tok. Die som is dus maklik: baie min voorspelers word top skeidsregters vir geen ander rede nie as dat hulle liggaamsbou hul diskwalifiseer. 

Jy kan nie verwag dat iemand wat nooit in ʼn skrum moes sak, heeltemal sal verstaan hoe ʼn voorry van 350kg, ʼn slotpaar van 250kg en drie losvoorspelers van 250kg saam kan insak teen opponente wat die skaal ook anderkant 800kg trek nie. Nog minder sal hy verstaan hoe, indien een of meer van die 16 uit lyn uit skrum of as ʼn stut net eenvoudig nie sterk genoeg is om sy opponent gebind te hou of terug kan druk nie, die skrum óf boontoe óf ondertoe gaan. Dis ʼn natuurwet eerder as ʼn spelreël.

Een of ander tyd word regverdigheid in die besluitnemingsproses uitgeskakel en raaiwerk neem oor.

Die hakers van vandag hoef nie meer te haak nie want balle word nie meer reguit by die skrum se bek ingegooi nie, al sê die reël hoeʼn Skrum word eerder gewen deur die spelers se vermoë om te skrum as die talentvolle vermoë van hakers om die bal te haak. ʼn Stut wat sy bind verloor word gestraf maar ʼn skrumskakel met ʼn skewe ingooi, kom skotvry. Êrens is daar ʼn wanbalans en rugby baat nie hierby nie.

Afhangend van watter kleur blou jy dra, is Jaco Peyper nadese óf ʼn held óf ʼn skurk. Die feit dat die reëlboek skrums oormatig polisieer en dat Peyper se base verwag dat hy, soos Craig Joubert in die 2010-eindstryd “meer as regverdig” moet wees, is buite rekening vir die fanatieke skare.

Twaalf van die onderafdelings van reël 20 in die reëlboek, reguleer skrumwerk en skeidsregters weet dat skrum tyd byna ʼn kwart van ʼn wedstryd kan opvreet. Daar was, toegegee ʼn poging van die oud-IRB om die spel vinniger te maak, maar in plaas daarvan word die spel of doodgeblaas of kom voorspelers met moord weg.

Die afbreekpunte was volgens Schalk Burger en Alister Coetzee die probleem in die 2010-eindstryd van die Superrugby reeks. Rob Louw reken dis skrumwerk

Ons reken dis tyd om die skrum reëls en die toepassing daarvan te hersien want dit wat verlede Saterdag op Nuweland gebeur het, het niks met regverdigheid, veiligheid en vloei van die spel gehelp nie.


Foto: Werner Nysschen Photography

Related Posts

« »