MY LEWE IN BLOU: ʼn ONDERHOUD MET WYNIE STRYDOM
Artikel deur Simon Riekert #Paletoe
Kort voor die voormalige spanbestuurder van die Blou Bulle en die Bulls sy kantoordeur in 2013 vir die laaste keer toegemaak het, het Pale Toe! by hom gaan kuier.
Ons stap sy netjiese kantoor binne; die gemakstoele wat strategies so geplaas is dat die uitsig oor die pawiljoen soos ʼn driedimensionele beeld voor jou oopvou.
ʼn Besige lessenaar en ʼn radio wat een van die plaaslike stasies se musiek speel.
Geraamde foto’s van groot rugbyoomblikke, aandenkings en kleinnode voltooi die prentjie van een van die bekendste en geliefde sportpersoonlikhede, veral in die rugbywêreld. Hierdie werksplek gaan hy binnekort verlaat.
“Dis elke oggend ʼn groot voorreg om deur die hekke by Loftus te ry en by een van die mooiste kantore in te stap. Ek het nie die see of ʼn berg om na te kyk nie, maar ek is seker ek het die mooiste uitsig van alle kantore in Suid-Afrika,” en met die woorde verwelkom hy my in sy wêreld.
Hy het homself al voorberei vir die dag wanneer hy moet groet. “Wanneer daai dag kom, sal dit sekerlik hartseer wees, maar ek sal weggaan met no regrets, ek sal graag hier wil weggaan soos wat ek hier aangekom het en al die mense wat my so goed behandel het, net so wil groet.”
Ons wil toe weet hoe hy by die Bulle beland het.
“Dit was ʼn lang pad en dit is wat dit so spesiaal maak. Ek was gelukkig om in 1976 vir die eerste keer vir ʼn Blou Bulle-span uit te draf en ek het baie wedstryde vir die Bulle se B-span gespeel. Ek het so twee jaar vir die o.25-span gespeel, in albei spanne het ons die kompetisie gewen en ek was 45 keer op die bank as ʼn reserwe. Daardie tyd het jy net opgegaan as die ou in wie se plek jy opgaan, dood is op die veld. Ek het my twaalf wedstryde gespeel en my Noord-Transvaal-kleure gekry.”
Hy is van 1978 lid van die afrigtersvereniging, wat begin het by die laerskole in die streek. Hy het die Noord-Transvaal se laerskole Cravenweekspan afgerig, asook Noord-Transvaal se o.20’s. Van 1990 af is hy aangestel in ʼn heeltydse hoedanigheid.
Wynie is toe gepols oor die groot momente wat vir hom uitstaan in sy tyd by die Bulle.
“In die speeltyd staan iemand soos oom Buurman van Zyl uit. Dit was ongelooflik om hom te ken en saam met hom te werk. Hy was die afrigters van sy tyd jare vooruit. Hy het mense geken en kon met hulle werk. Dit het vir hom nie soseer oor die spelkennis gegaan nie, maar hy het mensekennis gehad wat vir hom en ons gewerk het.
“Hy het, wanneer ons ʼn wegwedstryd gespeel het, die aand voor die wedstryd by elke ou gaan draai en hom laat verstaan hoe belangrik hy vir die span is. Hy het selfs by ons reserwes ʼn draai gemaak en ons gemotiveer.
“Dan is daar ʼn ou soos dr. Daan du Plessis. Hy was spankaptein en met ʼnCurriebekereindstryd in Bloemfontein op pad terug met die bus maak hy almal stil en ons dog toe hy gaan ʼn groot toespraak maak. Die volgende oomblik bulder hy: ‘We’ve got the Currie Cup!’ Dit het ʼn tradisie by ons spelers geword as ons die beker wen.
“Thys Lourens is ook ʼn groot gees. Hy was kaptein by Pretoria-rugbyklub en by die Bulle. Ek het baie respek vir hom. Hy was ook een van daardie kapteins wat die spel en leierskap jare vooruit was.”
Wynie noem dan dat die Curriebekersege in 1998 ook een van die hoogtepunte is. Dit was die oorgang van amateur rugby na die professionele era. Alles moes heronderhandel word, kontrakte moes geteken word en mense moes vas aangestel word.
“Die eerste Superrugbysege oorsee staan ook vir my uit. Ons het as die Northern Bulls ses keer getoer en al ons wegwedstryde verloor. Op die sewende toer, saam met Rudy Joubert, speel ons teen die Hurricanes in Napier en ons wen hulle. Dit was groot! So ook was die Curriebekerseges van 2002 tot 2004 vir my baie spesiaal. Dit was ook die Heyneke Meyer-era by die Bulle en sy aandeel om die Superrugbytoernooi in 2007 in Durban te gaan wen, is onvergelykbaar. Orlando was net so spesiaal in 2009 en 2010.”
Wynie keer terug na die Heyneke Meyer-era.
“Dit was ʼn sukkeltyd want soos wat ons ses jaar agtereenvolgens verloor het, so is die afrigters gefire. Heyneke het ingekom en aan SARU se verteenwoordigers gesê dat hy ʼn span wil bou en dat hulle hom moet uitlos. Heyneke is toe vir drie jaar aangestel en het sy stelsels gevestig, van die ou hout ontslae geraak en van toe af het ons net een pad geken, vorentoe. Ek skryf baie van die Bulle se sukses aan sy manier van dink en doen toe.”
Min mense weet dat daar ʼn Springbokbaadjie in Wynie se hangkas is. Ons wou by die storie agter die prestasie uitkom.
“Baie interessant!”, sê Wynie laggend. “Ou Peter de Villiers was een jaar by die Northern Bulls betrokke en na ʼn toer het hy na my toe gekom en my bedank vir die manier waarop ek hom hanteer het. Hy het belowe dat wanneer hy Springbok coach word, kom hy my haal. Ek het gesê dit moet wees wanneer die Bulle nie speel nie, want ek is eers ʼn Bul en dan ʼn Springbok. Dit kom toe so dat ons klaar gespeel het en die einde van die jaar na Europa toer en ʼn bestuurder kort. Dit was ʼn heerlike ervaring saam met Dick Muir en coach Peter.”
Wynie vertel toe ʼn bietjie meer oor homself. “Ek het grootgeword en skoolgegaan in die Laeveldse Platorand, in ʼn dorpie met die naam Graskop. Daardie mense lê my nog naby aan die hart en ek gaan gereeld soontoe. Ek sê altyd ek het reeds my hemel op aarde gehad, want die plek en sy mense is baie spesiaal. Ek het twee broers wat ook skrumskakel gespeel het en ons kuier gereeld saam. Ons mis mekaar baie en as ons saam is braai, kuier en sing ons graag. Daar is nie ʼn lied in die FAK wat ons nie ken nie.”
Agter elke suksesvolle man staan…
“Ja, ek vertel graag oor ou Marlentjie. Ek is baie bevoorreg om so ʼn wonderlike vrou soos sy te hê. Ons is byna 40 jaar gelukkig getroud en ons is ou kollege-kyse. Ons het saam onderwys geswot by die NKP (Normaalkollege Pretoria) en het saam gaan skoolhou en saam hier by Loftus beland.
“Sy maak kos vir die spelers en dis so half ʼn familiesaak. Divan, my een seun, is ʼntegniese mannetjie hier by die juniors en ek is bly daar bly darem nog ʼn Strydom oor as ons weggaan. Marlie, Gerhard en Divan is my kinders en hulle het van kleins af hier by Loftus grootgeword, van my speeldae, afrigtersdae tot my heeltydse dae af. Ons kuier as gesin gereeld saam, eet saam en doen dinge saam. Dis baie lekker en ʼn voorreg om jou kinders so by jou te hê.”
Wynie was ook deel van ʼn buitengewone gerief wat by Loftus vir die spelers opgerig is en hy vertel:
“Ek het gaan kyk hoe die oorsese spanne dit doen, hulle het die modernste gyms, onthaalsale en ontspanningsplekke vir die spelers en ek het die bestuursraad gevra of ons nie dieselfde kan doen hier op Loftus nie. Hulle het toestemming gegee en ons het die enigste ontspanningsentrum in Suid-Afrika waar spelers en hul familie na wedstryde kan ontspan, gebou. Die Watergat gee ons kans om saam te kuier en die spelers hoef nie na die wedstryd na ʼn kuierplek te gaan soek nie. Hier is almal en alles bymekaar.”
Hy sê ook sy gunsteling kleur is blou “want die lug is blou en die jakarandas in die Curriebekertyd is ook blou” en Marlene maak sy gunstelingkos, osstert en stampmielies.
Hy hou ook van ʼn ribbetjie oor die kole. “Dit moet net maer wees, ek hou nie van vetterige kos nie.”
“Dan kan ʼn mens mos nie braai sonder die hartjiestigting se koeldrankie nie. As die vuurtjie brand, dan gooi jy hom in,” vertel hy oor sy gunsteling drankie.
Hulle hou graag vakansie in die wildtuin, “maar net in die winter, want daar kan jy uitbak, ons hou ook van die see en hou graag in die Suid-Kaap vakansie.”
“Ek gaan vang ook ʼn bietjie tiervis op die Kariba-meer as die Curriebeker klaar is.”
Helaas het dit groettyd geword en ons vra uit oor ʼn nalatenskap en ʼn positiewe boodskap.
“Ek is baie opgewonde oor wat hier gebeur by die Bulle. Dit het ʼn lang tyd gevat om die strukture in plek te kry en ʼn hoofafrigter speel ʼn baie belangrike rol in mense se lewens. Hulle moet sorg dat die balans tussen ervaring en jeug die hele tyd gekweek word.
“Ons het gesien dat toe die nege Bokke hier weg is, die Victors, Bakkies, Danie en daai manne, toe sê almal die rooi ligte flikker vir die Bulle. Dit is verkeerd bewys, want 2013 was vir my een van die beste en lekkerste jare in Superrugby. Net omdat ons die strukture het.
“Dan is daar ons ondersteuners. Ek kom orals in die wêreld en daar is altyd Blou Bul- ondersteuners wat met my praat en uitvra oor ons hier by Loftus. Ek dink aan die mense van Swakopmund in Namibië, die plek is vol Afrikaanses en Blou Bul- ondersteuners. Walvisbaai het net sulke fantastiese mense en ondersteuners.
Dit was vir my die ding wat dit die moeite werd gemaak het. Die ondersteuners is alles, selfs as die Bulle verloor, maar meer passievol in rugby kry jy nie as ʼn Blou Bul- ondersteuner nie. Ek moes baie keer ʼn plastiek smile opsit as dit sleg gaan by die Bulle, maar die ondersteuners is die ouens wat jou op die skouer klop en sê dit sal beter gaan. Die vriendskappe sal altyd bly staan en as dit nie vir rugby was nie, was ons nie nou hier nie.”
Ons groet, maar terwyl sy laaste woorde eggo, weet ons dis waar: “As dit nie vir rugby was nie, was ons nie hier nie.”
Mooi loop, ou Blou Bul.
Jou bloed ís waaragtig blou…
Bulle boek kompetisie: https://www.rugby15.co.za/2015/05/rugby-15-book-giveaway-watch-this-space/
Related Posts
« USA to host Rugby World Cup Sevens 2018 DHL WP ready for ‘massive’ quarterfinal clash »