ONS IS REGTIG (BLYKBAAR) NIE SO GOED AS WAT ONS DINK NIE #Paletoe
Artikel: Simon Riekert
Daar is sportskrywers wat glo ons het maar min perspektief oor ons vermoëns om wêreldwenners te wees. Ons sukkel blykbaar om die realiteit bo die droom te stel en ons hou van ʼn span wat nooit bes gee nie.
Plaaslike rugby-derbies lok altyd kommentaar uit. Soms is dit goeie kommentaar, soms minder goed. ʼn Kykie na die sosiale media platforms vertel gewoonlik meer as wat tussen die lyne aangaan en dit vat nie baie lank om tussen die kenners en die “internet-trolle” te onderskei nie.
Een ding is seker, ons glo ons is die beste sportnasie in die wêreld, veral as dit by rugby en krieket kom.
Oor krieket sê ek niks, behalwe dat die magtige stilte na die Proteas se aanslag op die wêreldbeker in Australasië oorverdowend is. Miskien ook goed so gedagtig aan ʼn sport babalaas en die nugtere vooruitsig na die uitkloprondtes van die Superrugby-reeks, om nie eens van die Rugby –wêreldbekertoernooi te praat nie.
Terug na die rugby; die Lions het verlede naweek vriend en vyand verras om ʼn kookwater Bulls span se stert te knoop in die laaste sekondes van die Jukskei-derby op Emirates Park. Die kenners en trolle was soos te verwagte ook daar om op die Lions se geskiedkundige oorsese sukses kommentaar te lewer. Drie oorwinnings op hul toer hét reaksie uitgelok by almal. Een groep loof die oorwinnings teen die Rebels (11de), Reds (14de) en die Blues (15de) en die ander lag in hul moue. Só selfversekerd was die Bulls se ondersteuners vooraf dat Superbru se ‘”major upset” persentasie van die hoogste nóg was hierdie seisoen nadat Akker van der Merwe ʼn hele Bulls span aan die slaap gevang het met sy drie in die laaste sekondes van die wedstryd.
Die uitslag het die tonge aan die rol gesit oor die Lions span wat laasjaar nog in ʼn promosie-relegasie twis met die Southern Kings gewikkel was.
“Hulle was gelukkig om drie in ʼn ry te wen, die kompetisie was maar so-so en wag maar vir later in die toernooi”, is van die opmerkings wat tot verlede naweek nog gemaak was.
Vandeesweek bring dit die realiteit: ewe skielik sal die Sharks (danksy hul selfvervaardigde demone), Saterdag nie die gunstelinge wees nie. Hul ondersteuners was deur een van die baie afrigters in hul kamp, Gary Gold reeds om verskoning gevra.
“Die ster span sonder die sterre”, het een kollega die Lions genoem terwyl die lofsange dreun. Dit gaan goed in Johannesburg en Johan Ackermann word terstond gesalf as die nuwe Bokafrigter.
Maar so bring elke nuwe week ʼn nuwe emosie te voorskyn. Vandeesweek is die Bulls se ondersteuners versigtig optimisties, die Sharks hou asem op, die Stormers maak reg vir nog ʼn toer nederlaag en die Cheetahs…?
Te oordeel aan die dringende persverklaring, Vrydag waarin ondersteuners vertel word dat “…beide Direksies van die Toyota Cheetahs & Toyota Vrystaat Cheetahs hulle volle ondersteuning aan die span en afrigters gee, sal die Besturende Direkteur na afloop van die toer in Australasië indringend in gesprekke tree met die Afrigting- en Bestuurspan om die situasie te ontleed en die nodige aksies te neem om die span verder by te staan in die gedeelte van die toernooi wat voorlê”, hou die Vrystaters blykbaar goeie moed.
Daar is sportskrywers wat glo ons het maar min perspektief oor ons vermoëns om wêreldwenners te wees.
Ons sukkel blykbaar om die realiteit bo die droom te stel en ons hou van ʼn span wat nooit bes gee nie.
Maak dit ons dan slegte verloorders? Ja en nee, want ons van die wêreld se mees onkundige en arrogante ondersteuners, sê een skrywer. Dit, terwyl ons die mees emosionele en passievolle toeskouers is. Bitter min realiteit word op die sosiale media platforms toegelaat. As dit die hartsnare roer, is dit goed, maar as die nederlaag nie herinner aan helde van weleer nie, loop die gifbeker oor en afrigters, spelers en die bestuur van ʼn span moet summier skoert.
Die oorverdowende stilte na die Proteas se nederlaag teen Nieu Seeland in die krieket Wêreldbeker-toernooi, dien as voorbeeld van ons onwankelbare geloof in onsself. Grant Elliot, gebore Suid Afrikaner slaan Dale Steyn vir ʼn ses en verseker sy span se sukses. Suid Afrika se ondersteuners trek laer om die Proteas en alhoewel ons nie aan ons potensiaal voldoen het nie, glo dieselfde ondersteuners dat ons beroof is van die wêreld titel.
Só is die Lions tans die land se gunstelinge, soveel so dat Johan Ackermann (wie in die spore van Kitch Christie, John Mitchell en Laurie Mains loop), geoormerk word as die moontlike nuwe Bokafrigter. Daarenteen rus Frans Ludeke vir Pollard vir nog ʼn week en hy word gekasty uit alle oorde vir die besluit.
So is daar spelers wat te oud of te klein is, te stadig of tegnies gestremd is, veral as jy voorlangs sak.
Ons kies met die hart en laat bitter min oor vir die verstand want volgens ons is die Lions die varsste, die Sharks besete, die Bulls moeggesukkel onder Ludeke en die Cheetahs in niemandsland.
Feit is, en dis regtig ʼn poging om feitelik te wees, ons het tans van die beste spanne in wêreld rugby en krieket.
Ons het al die potensiaal om weer wêreld wenners te wees, net nie nou nie.
Related Posts
« Ben Afeaki retires from rugby Bizsport Glenwood Rugby Festival Results »