ONS KAN WEER SO LEKKER MAAK SOOS IN 1995 #PaleToe

Jun 26 • General News • 2616 Views • Comments Off on ONS KAN WEER SO LEKKER MAAK SOOS IN 1995 #PaleToe

Artikel deur Simon Riekert #Pale Toe!

 

Heyneke Meyer glo nog steeds dat daar ʼn paar basiese dinge is wat gedoen moet word om die William Webb-Ellis trofee te wen. Eerstens moet ʼn span gedissiplineer wees en sedert Kitch Christie se kampioene van 1995, het hieraan niks verander nie.

 

Vandeseweek was dit amper weer so lekker soos 20 jaar gelede toe die Springbokke vriend en vyand verras het en die 1995 Wêreldbeker gewen het. Eintlik meer korrek, toe Joel Stransky se skopvoet die wedstryd vir Suid Afrika gewen het. Stransky en Andrew Mehrtens het die toernooi met hul skopstewels gedomineer en Andre Joubert het met sy akkurate lynskoppe meegehelp.

Dit was die vooraand van professionele rugby en ʼn ontnugterde All Black span het besef dat die ou aartsvyand, die Springbokke terug is om nuwe mening aan die term “kompetisie” te bring. ʼn Superfiks Bokspan met absolute deursettingsvermoë en die wil om te wen het daardie dag die wêreld laat regop sit en besef dat puik taktiese skopwerk en klipharde verdediging Wêreldbekers kan wen.

Wêreldbekers word nog steeds gewen met goeie skopwerk, soos Jonny Wilkinson in 2003 gewys het. Engeland en Australië was vasgevang in ʼn gelykopstryd 20-elk en soos in 1995 was daar 20 sekondes oor voordat ekstra speeltyd sou aanbreek. Dis toe dat Wilkinson met ʼn skepdoel slaag, die wedstryd beklink en die Wêreldbeker dominansie vir vier jaar na die noordelike halfrond toe skuif.

Heyneke Meyer glo nog steeds dat daar ʼn paar basiese dinge is wat gedoen moet word om die William Webb-Ellis trofee te wen. Eerstens moet ʼn span gedissiplineer wees en sedert Kitch Christie se kampioene van 1995, het hieraan niks verander nie.

“’n Fikse span wen Wêreldbekers en so ook ervaring. Dit klop jy nie”, meen Meyer. Ditto 1995. Die Bokke se fiksheid, voor en agterlangs was die deurslaggewende faktor waarom hulle die bal kon rondgooi, kon verdedig soos tiere en letterlik buite hul vermoëns kon speel.

“Dit was nie dat ons so grênd was wat saakgemaak het nie. Elke ou het homself gelig bokant sy eie vermoë terwille van die span en die Boktrui. Die ouens sou doodgaan op die veld daardie dag”, het Francois Pienaar, kaptein van die 1995-span vandeesweek gesê.

Nog ʼn faktor wat Meyer stewig in sy beplannings raamwerk ingesluit het, is die feit dat die toernooi op tipiese Engelse sokkervelde gespeel gaan word.

“Die velde is swaar en ons het in ons beplanning gaan kyk na die toestande daar. Dis die noordelike halfrond se herfs en dit beteken ander toestande as waaraan ons gewoond is tydens die Superrugby-toernooi.

“Ons sal 5 toetse speel (in tyd om ʼn Wêreldbeker seleksie te maak) en ons sal eksperimenteer met kombinasies gedurende hierdie tyd”, het Meyer tydens ʼn mediakonferensie gesê.

Volgens Meyer se statistiek sal taktiese skopwerk 70% van die bepalende wedstryde van die Wêreldbeker uitmaak.

“Ek haat ʼn doellose geskop, maar finale word beslis deur skopwerk en ons sal reg wees daarvoor indien ons een van die spanne is.”

Vandeesweek het die Springbokke se voormalige kommunikasiebestuurder en rugbyskrywer Mark Keohane ʼn teer puntjie oor ons Wêreldbeker kanse aangespreek.

Keo meen dat ons moet ophou sanik oor ons swak Superrugby vertonings aangesien ons heil by die noordelike halfrond lê: “ Suid Afrika se rugbyprobleme lê nie by die spelers wat top kontrakte in Europa of Japan aanneem nie. Die nasionale span word nie geraak nie. Die spelers bly beskikbaar vir Bokkleure en die Springbokke is kompeterend want Heyneke Meyer kan sy heel beste regoor die wêreld kies.”

Dat dit sal sin maak in ‘n Wêreldbeker jaar, is gewis. Kyk ʼn mens net alleen na die spelers se aanpassing by Europese toestande, ʼn baie belangrike aspek vir Meyer, maak dit sin dat ʼn groot gros van die Wêreldbeker groep uit ervare, buitelandse spelers sal kom.

“Dis nie ʼn emosionele keuse nie (om die spelers te kies nie), dis anders as Superrugby, dis ʼn heel ander spel”.

Volgens die Britse “The Telegraph” bly die Nieu Seelanders die gunstelinge om die toernooi te wen.

Stuart Lancaster se Engelse is volgens hulle die naaswenners, Wallis behoort uitgeskakel te word in die uitspeelfase, Australië behoort die kwarteindrondte te haal, die Skotte behoort ook die kwarteind te haal en so ook die Franse. Die Sesnasies kampioene, Ierland behoort ook die halfeindrondte te haal, meen hulle.

Dit waarna almal uitsien, ʼn halfeindstryd tussen Suid Afrika en Nieu Seeland, lê vars op die Europeërs se lippe.

Die wenners? Natuurlik soos in 1995, Nieu Seeland volgens Jan en alleman.

Maar Heyneke Meyer se Bokke kan in September 2015 weereens bewys dat die Wêreldbeker nie altyd deur spanne gewen word wat vooraf die gunstelinge is nie.

Foto: Anton Geyser

Related Posts

« »