OREGAN HOSKINS EN SARU SE BAKEN VAN HOOP #PaleToe

Apr 11 • General News, International, Pale Toe, Springbok News, Springboks • 1767 Views • Comments Off on OREGAN HOSKINS EN SARU SE BAKEN VAN HOOP #PaleToe

“Kom ons hoop ons wen die Wêreldbeker in 2019, want ek dink ons is eenparig.”-Oregan Hoskins, SARU President.

Simon Riekert #Pale toe

Môre hierdie tyd weet ons wie SARU so lank weggesteek het as Springbok afrigter.

Daar was soveel bespiegel in die pers die afgelope ruk, en tereg het mense emosioneel geraak oor die aanstelling van ‘n afrigter wat die Bokke weer op die wenpad kan plaas.

As jy dit nog nie geweet het nie, is hierdie die boodskap: die nuwe afrigter en sy assistent sal ‘n “swart Afrikaan” wees en SARU is nie tevrede met transformasie nie.

Hoskins het op 2 April 2016 tydens ‘n SARU perskonferensie, die sluier so effens gelig en môre,12 April is die D-dag vir Suid Afrikaanse rugby.

Hoskins, wat vanjaar reeds 10 jaar die amp van SARU President beklee, het aangedui dat daar “’n nuwe hoofstuk en era vir rugby voorlê en ‘n beroep op die publiek en die media gedoen om die nuwe bestuur volhartig te ondersteun.”

Volgens Hoskins kan die Springbokke in 2019 weer die wêreldkampioen wees en “sal die nuwe afrigter goed wees vir SA rugby.”

Môre sal ook onthul of die nuwe Bok afrigter wel al die regmerkies gekry het, soos wat Hoskins gesê het. Die transformasie van die spel op-en van die veld af is vir SARU eerste prioriteit.

Dit is ook duidelik dat SARU nie die nuwe afrigter sy sin gegee het om sy eie assistente aan te stel nie: “dit sal ‘n hibriede funksie wees…SARU en die afrigter sal saam besluit wie die mense is…ek is tevrede met die name wat voorgelê is, veral omdat hulle voldoen aan verteenwoordiging.”

Hoskins en die afrigter sal ook getoets word aan die feit dat Rassie Erasmus se hoë prestasie afdeling “reeds baie hard werk van verlede jaar af en dat die nuwe afrigter by die plan sal inskakel.”

Hoskins was ook baie duidelik dat daar ‘n nuwe, swart assistent afrigter sal wees “wat aan die hand geneem sal word om op standaard te kom.”

“Transformasie op grond van meriete” het hy dit genoem en aangedui dat dit SARU se doel is dat die persoon op ‘n versnelde program moet inskakel.

Hy het die Stormers as baken van hoop bestempel met hul transformasie planne, en bygevoeg dat daar ander unies is wat “verleë sal wees met die afwesigheid van swart spelers op die veld.”

Alhoewel die harde woorde reeds ‘n week gelede in die raadsaal van SARU geval het, sal môre se aankondiging ook onthul of die SARU daarin slaag om ‘n substantiewe borg vir die Springbokke en die Curriebeker reeks te verseker.

Volgens Hoskins was daar verlede week “goed keel skoongemaak en was daar reguit gepraat” oor ons rugby.

“Ek is meer positief as ‘n paar weke gelede”, het Hoskins op 2 April gesê.

“Kom ons hoop ons wen die Wêreldbeker in 2019, want ek dink ons is eenparig.”

Related Posts

« »