Skeidsregters, ‘n onmisbare ergernis? #PaleToe
Hoeveel keer dink en hoor jy dat daardie skeidsregter alweer die wedstryd gekos het?
Hoeveel braaivleisvure is brandgemaak te midde van hewige redenasie van al wat ‘n “kenner” is oor dié en daardie reël?
Hoeveel keer was jy al by ‘n wedstryd waar jy sweerlikwaar glo jy die fluitjie beter sou kon hanteer?
‘n Taai tameletjie, hierdie skeidsregters besigheid.
Ons land, volgens die rêrige kenners, het van die wêreld se heel beste skeidsregters opgelewer.
“Suid-Afrika het een van die beste internasionale platforms om as skeidsregter te kwalifiseer. Ons het in die 15-man kode by die Wêreldbeker-toernooi skeidsregters opgelewer, so ook by die Sewes-toernooi en of dit vrouens, mans, juniors, Sewes en dies meer is ons mense is op die paneel van wêreld gehalte. Dis ‘n bewys dat die sisteem hier by ons werk en dat ons die vrugte daarvan pluk, ons lewer skeidsregters van gehalte omdat die sisteem in plek is. Enige jongmens kan by skeidsregters betrokke raak, daar is geen beter sisteem op die aardbol as hier by ons nie. Van Cravenweek af, Varsitybeker, klubkampioenskappe, Sewes, noem dit op daar is ‘n geleentheid om betrokke te raak by die ontwikkeling van die spel.”
Aan die woord is Jaco Peyper, een van ons senior skeidsregters en ‘n man wat die nou paadjie van suksesvolle skeidsregters gestap het.
Dis die einste Jaco wie verlede Saterdag in die laaste kwart van die Superrugby-wedstryd tussen die Stormers en die Sharks, ‘n kontroversiële strafdrie toegeken het en die sodoende die gramskap van al wat ‘n Shark ondersteuner gehaal het.
Die sosiale media het na die tyd behoorlik gegons oor die beslissing, wat op die ou einde tóg reg interpreteer was deur die man met die fluitjie.
“Ek het nog nie ‘n skeidsregter ontmoet wat met kwade bedoelings opdraf en om die een span teen die ander te bevoordeel of benadeel nie. Niemand is meer teleurgesteld as jyself as daar gronde en feitlike bewyse is vir jou verkeerde besluite nie, ons maak almal verkeerde besluite. Dis ‘n ongelooflike teleurstelling en ‘n ou wil graag ‘n bydrae maak tot die game, ons wil ‘n bydrae maak tot rugby waar ander mense dit nie wil doen nie en as jy nie met jou foute kan deel nie, gaan jy dit nie op hierdie vlak maak nie.
Die op en die af is ‘n unieke deel van hierdie beroep en daar is ‘n hengse klomp goeie ouens daarbuite wat ref.”
Manne soos André Watson, Craig Joubert, Mark Lawrence, Marius Jonker en Tappe Henning wat ‘n reuse aandeel speel in die ontwikkeling van jong talentvolle blasers, het al groot skoene vol gestaan in die rugbywêreld.
Tewens in die laaste ses Wêreldbeker-eindstryde was daar drie keer Suid-Afrikaners wat die eindstryd geblaas het. Die Springbokke was egter betrokke in twee van die ander drie eindstryde wat beteken het dat ons plaaslike skeidsregters outomaties uitgekanselleer is.
Ons mag maar glo soos menige speler dit doen, dat hulle ‘n onmisbare ergernis is, maar die spel kan nie bestaan sonder hulle nie.
“Elke ou het sy eie meganisme om met kritiek te werk, ek het nog nie ‘n ou ontmoet waar kritiek soos water van ‘n eend se rug afloop nie, dis moeilik maar dit bly ook realiteit waarmee ons moet deel, hoe vinniger en hoe beter jy daarmee deel hoe beter vir jouself en wat jy daaruit vat om jou werk te kan doen. Dis een ding as dit vanuit ‘n gerespekteerde bron kom as wat dit van ‘n eenogige rugbyskrywer af kom, veral hulle wat uit die lande kom wat maar blind is vir hul eie foute en tekortkominge. Een ding is seker, as jy dit nie kan verwerk nie, gaan jy dit nie lank op hierdie issue en level kan bly nie.”
Feit is, rugby se afrigters en spelers sal voortdurend ontwikkel en skeidsregters is nie uitgesluit nie.
Neem byvoorbeeld die sukses wat ons plaaslik bereik met die wit kaart en twee skeidsregters in Varsity rugby. Dan kom jy agter beslissings word nie makliker nie.
“Hoe beter ‘n span afgerig is en hoe beter hulle die reëls ken, hoe makliker is dit vir my om die wedstryd te blaas. Hoe meer positief die spelers is, hoe makliker is dit om ‘n besluit te neem. Dit is nooit lekker om ‘n besluit te neem waar dit te tegnies raak nie, skrumwerk is byvoorbeeld spesialis areas en dit bly ‘n groot verantwoordelikheid om in die druk van die wedstryd, die besluit en die spesialisbeslissing te verwerk. Jy kry een of twee ouens se negatiewe houdings wat ook ‘n invloed op jou het, dan moet jy koudbloedig ‘n interpretering van feite doen, jy kan nie die menslike faktor laat deurkom nie, jy kan nie betrokke raak in die wedstryd nie.
“Soms help dit om logies te dink maar soms ook nie, want jy kan te tegnies word. ‘n Ou wat tegnies blaas, loop jouself vas in ‘n strik. Jy moet blaas wat obvious is, dis die geykte term wat ons gebruik.”
‘n Speler soos Bismarck du Plessis wat uit sy eie sê dat hy hard en ongenaakbaar op die veld is, kan maklik onder die vel inkruip en dit maak dit nie makliker vir besluitneming nie.
“’n Ou probeer ferm wees sonder om verkleinerend te wees maar jy moet die grense vir die speler stel sodat hy weet dat daar vir hom en sy kaptein geen onduidelikheid is van wat volgende gaan gebeur nie en ‘n ou moet ook regverdig wees en kyk of hierdie speler nie dalk uitgelok is nie. Ons moet die bron hiervan kry en jou dwing om die mens te sien in die situasie. ’n Ou moet besef wat is die beste vir die spel en jou besluite so aanpas oor iemand wat moeilik is.”
Soos Jaco ook bevestig het, lê daar ‘n allemintige probleem in die Sanzar-groep. Ons skeidsregters se standaarde is vêr bokant die van Australië en Nieu-Seeland en ons juniors is besig om baie vinnig die mas op te kom.
Lyndon Bray, Sanzar se bestuurder van skeidsregterswerk, is gereeld in die nuus oor die probleme wat ondervind word met strukture, ontwikkeling en opleiding van die blasers.
Nie alle junior skeidsregters maak dit op Superrugby-vlak nie en Jaco het op 27 sy vuurdoop op Superrugby-vlak gemaak in ‘n wedstryd tussen die Lions en die Highlanders.
“Dit was ‘n hoogtepunt, maar jy hoef net een Superrugby wedstryd te blaas om vinnig agter te kom dat dit nie makliker word nie, daar’s baie verantwoordelikheid in so ‘n wedstryd, dis so half ‘n ontnugtering van waarmee jy eintlik besig is. Jy wil altyd meer hê, beter wees, meer verdien as die ander ou en die oomblik as jy dit kry dan besef jy dammit, waarmee sit ek nou?”.
Bray en sy paneel is ook al gekonfronteer met die eis dat daar neutrale skeidsregters moet blaas in die Super-kompetisie, maar waar die internasionale standaard soveel verskil, kan hierdie reëling nog nie toegepas word nie.
Jaco help met die laaste woorde: “ek glo dis eintlik soveel erger vir spelers en afrigters, ‘n mens moet besef dat daar kritiek gaan kom en mense gaan nie altyd saamstem nie, jy leer om dit te hanteer. Jy moet die beste daarvan maak en jy sien ook van wie af kom die kritiek, as dit van die emosionele ondersteuners af kom hanteer ‘n mens dit op ‘n sekere manier. Jy moet baie begrip hê vir die persoon want hy is emosioneel oor sy span. Ek het vrede daarmee gemaak want ek verstaan as ‘n ou kwaad raak oor beslissings teen sy span en sy span verloor. Ek raak ook emosioneel as my span verloor. Wanneer die kritiek van iemand binne die spel, soos ‘n speler of ‘n beampte of ‘n afrigter kom verwag jy ‘n meer gebalanseerde mening.”
Miskien is dit tog die boodskap wat ons as publiek, spelers en skeidsregters by mekaar wil uitkry: sorg dat die regte beslissings gemaak word onder druk, sorg dat die juniors die mas goed opkom en wees asseblief net konsekwent.
Dan is daar vrede by die braaivleisvuur.
Met dank aan Jaco Peyper, ‘n gebore Vrystater in murg en been en een met ‘n hart en ‘n passie vir die spel. ‘n Man wat sy oordeel vel met ‘n glimlag en wat die mens in die besluit raaksien, senior Suid-Afrikaanse skeidsregter en sedert 2012 skeidsregter op die internasionale elite rugby paneel.
Related Posts
« JAMES BROADHURST CITED FORCE EDGED OUT BY REBELS AT THE ‘FORCE FIELD’ »