VRYDAG WORD BLOU MAANDAG #PaleToe

Jun 11 • General News, Pale Toe • 3739 Views • Comments Off on VRYDAG WORD BLOU MAANDAG #PaleToe

Artikel deur Simon Riekert  #PaleToe!

 

Om oor Frans Ludeke te skryf is moeilik. Hy is ʼn gentleman. Hy is nie ʼn tipiese coach nie. Hy skep altyd die indruk dat die spelers en die afrigters die situasie onder beheer het, al verloor hulle elke toerwedstryd en al het hulle twee jaar laas vir die uitspeelrondtes van die Superreeks gekwalifiseer.

 

Dis baie duidelik dat die Bulls se kraal omgekrap is. Ondersteuners wat die afrigter se kop eis, onsekerhede oor die Bulls se toekoms, bespiegelings oor ʼn bevordering vir Frans Ludeke en Victor Matfield wat die leisels mag oorneem. ʼn Nimmereindigende lys van groot ongelukkigheid.

Dat dit allermins goed is vir ons land se rugby, is ʼn feit. Nie dat ons so arrogant is om te glo dat die Bulls in die Super-kompetisie hoegenaamd die laaste twee seisoene iets noemenswaardig tot die nasionale span bygedra het nie. Inteendeel, spelers wat daar gedy het tydens verlede jaar se Viernasies toernooi, was hoofsaaklik Springbokke wat reeds hul merk in enige span sou gemaak het.

Volgens oud spelers soos Derek Hougaard, beskik die Bulls oor een van die gevaarlikste agterlyne in die Super-franchise. Feit is egter dat die spelers nie tot hulle volle reg kom nie en nie kan ontwikkel nie as gevolg van die patroon van spel wat op hulle afgedwing word. Dit help absoluut niks jy het die beste agterlyn nie, maar jy druk nie drieë nie. Net so min help dit dat die voorspelers balbesit kry en die aanvalpatrone val plat of nog slegter, besit word op ‘n skinkbord weggegee.

Om oor Frans Ludeke te skryf is moeilik. Hy is te veel van ʼn gentleman. Hy is nie ʼn tipiese coach nie. Hy skep altyd die indruk dat die spelers en die afrigters die situasie onder beheer het, al verloor hulle elke toerwedstryd en al het hulle twee jaar laas vir die uitspeelrondtes van die Superreeks gekwalifiseer. Frans gee klas, hy rig nie af nie.

Vandag was dit weer so: “ons aanvaar verantwoordelikheid vir die verloor, die swak toer, die nie kwalifiseer vir die uitspeel rondtes”, en dan: “maar ons is opgewonde oor die toekoms, want daar is baie jong spelers wat nog goeie rugby gaan speel.”

“Ons het ons verloor wedstryde net-net gemis. Ons moes nie tuiswedstryde verloor het voordat ons gaan toer het nie, maar ons weet waar die foute is en ons kan dit regmaak.”

Ludeke, so word algemeen gesê was gelukkig om in 2009 en 2010 die Super 14 te kon wen “en het met Heyneke Meyer se kalwers geploeg”. Meyer was in 2000, 2002 en 2004-2007 die Bulls se breier. Hy het in 2001 die trekpas gekry nadat die Bulls 11de in die Super 12 was.

Onder sy opvolger, Phil Pretorius het die Bulls in 2001 na die 12de plek teruggesak. Daarna, in 2002 is Meyer weer aangestel en het die Bulls hul 12de plek behou. Meyer is aan die einde van daardie jaar weer ontslaan en Rudi Joubert kon die Bulls na die 6de posisie lei. Die jaar daarna, in 2004 is Meyer weer aangestel en hy kon die Bulls in vier jaar van 6de (2004) tot die kampioenspan in 2007 neem. Dit was die dae toe SARU nog afrigters aangestel het.

In 2008 het Frans Ludeke die leisels oorgeneem vanaf die Lions en die grootste gros van die Bulls en Bulle se gekontrakteerde spelers, wat ook Meyer se senior spelers was, het oorgebly.

Ludeke kon dus met die Meyer templaat voortgaan. Hy het die spelers en die Meyer-plan daarvoor gehad.

Wynie Strydom skryf in sy boek “My Bloed is Blou” dat Frans en Heyneke goeie vriende is en dat Ludeke dit as “’n geweldige uitdaging” gesien het om Meyer op te volg, “veral omdat die Bulls in 2007 die Super 14 gewen het.”

Aan motivering om te presteer, het dit nooit ontbreek nie.

Ludeke en sy Bulls was in 2008 slegs 10de op die kampioenskapsleer.

In 2009 het hy die bordjies verhang en hy word die eerste rugbyafrigter in Suid Afrika wat die gesogte Curriebeker en Super 14 kompetisies in een jaar kon wen. Hy en sy span wen die laaste Super 14 kompetisie in 2010.

Ludeke het ʼn Bulls-span gehad wat uiteindelik die visie en missie van 2000 van Heyneke Meyer kon volvoer. Al wat hy moes doen, was om die proses te bestuur en die nodige aanpassings te maak as dit lyk of dinge ontspoor.

“Ons het ʼn goeie basis gehad om van te werk sedert Heyneke hier weg is en ek glo die Bulls het verbeter en hul speelplanne aangepas soos rugby verander het.”

Oud spelers stem nie saam nie. Ludeke het weliswaar die spelers en die visie van Heyneke Meyer geërf, maar hy het nie die spelers en die spelpatroon aangepas nie.

“Jy kan nie stagneer nie, jy moet aan beweeg en die spelers die geleenthede gee om te ontwikkel. Spelers was gekontrakteer en het nooit of baie min speelkans gekry onder Ludeke se hand. Daardie spelers het eerder gaan speel by ʼn unie met minder groot name en kleiner reputasies en dit daar gemaak. Hulle kon dit by die Bulls ook gemaak het as Ludeke hulle net die geleentheid gegee het om hul natuurlike spel by ʼn aanpasbare speelpatroon in te gooi”, sê Werner Swanepoel, oud Springbok en rugbykommentator.

“Jy loop die gevaar om die broodnodige verandering wat moet kom, uit te stel deur Frans na ʼn Direkteurspos te skuif. Daar bepaal hy wat die patroon van spel regdeur die Blou Bul unie sal wees, insluitend die junior spanne. As jy daardie patroon nie verander op junior vlak nie, val jy weereens vas wanneer die groot oomblikke aanbreek.

Dit is soos om wolf skaapwagter te maak, die unie sal die hele afrigtingskorps en die patroon van afrigting moet verander en om dit te verander het jy nodig om iemand aan te stel wat anders dink.

Jy moet skoon breek.”

Victor Matfield en Fourie du Preez se name duik kort-kort op in gesprekke. Matfield se rol as speler/afrigter is al ʼn paar keer hierdie seisoen bevraagteken en ʼn mens wonder hoeveel van die motivering om te speel was gebore uit desperaatheid om die Bulls se skip weer op koers te kry.

Wynie Strydom was daardie soort spanbestuurder wat die gom verskaf het om die spelers, ondersteuners en die afrigters bymekaar te hou. Tim Dlulane het ʼn ander persoonlikheid en waarskynlik ook ander drome. Die Bulls se openbare beeld word glad nie meer so gepoets soos in die tyd van Wynie nie, en so temperamenteel as wat ʼn Bul-ondersteuner is, gaan dit seermaak waar die Blou Bulle unie dit gaan voel, todat die regte besluite oor die span en sy afrigting geneem word. Of eerder, totdat die dapper besluit daartoe geneem word.

Vrydag 12 Junie 2015 is D-dag vir Frans Ludeke en sy kaptein Pierre Spies. Beide het Donderdag oggend bevestig dat die verwikkelinge rondom die afrigter hul toekomspalnee gaan beïnvloed.

Een ding is seker, en Matfield het dit onomwonde aan Pale Toe! gesê, hy staan met sy kop Springbok afrigter se kant toe. Na Vrydag mag hy dalk net die eerste stap in die rigting neem met sy aanstelling as afrigter van die Bulls en Blou Bulle.

Hoe dit ook al sy, die magtige Blou Bul is op sy knieë en dit is nie ‘n mooi gesig nie.

Die ringkoppe van Loftus Versveld het lank laas nodig gehad om ‘n goeie en dringende besluit te neem.

Wil hulle?

Related Posts

« »