Wat is nodig om die Springbokke weer die beste span te maak?
Simon Riekert van # paletoe skryf:
Ek het met ʼn paar gevestigde feite, noem dit nou maar tradisies grootgeword, en een daarvan is dat ʼn mens gereeld moet braai. Die ander is dat die Springbokke die wêreld se beste span is.
Daardie stelling was vir baie jare waar op die plek waar ek grootgeword het.
Min het ek geweet dat ek baie jare later die einste stelling sou kon debatteer met ʼn kenner; Tony Johnson, Nieu Seelandse joernalis en uitsaaier by die Sky netwerk. Ek en hy kon hieroor praat en saamstem dat die rugbywêreld draai om ʼn Toets tussen die All Blacks en Springbokke, en dat die Springbokke tradisioneel die All Blacks se gunsteling en mees gerespekteerde opponent is.
Na die afgelope 11 Toetse onder Allister Coetzee se bestuur weet ek nie meer nie.
11 Toetse en vier oorwinnings later en Coetzee het slegs ʼn 36% wenpersentasie, dieselfde as Ian Mc Intosh en amper so sleg soos Rudolf Straeuli, Kamp Staaldraad se baas se 45%.
Soveel vrae, so min antwoorde.
Is Coetzee die enigste een wat verantwoordelikheid vir die swak Springbokrekord moet dra? Wat van die spelers? Wat van die kaptein? Wat van die hulpafrigters en assistente wat spesiaal ingekoop is om die sinkende skip te probeer red?
Wat van SARU?
Ek is een van die wat glo dat SARU moet verduidelik oor hul doen en late en waar SA Rugby hom tans bevind. Daardie eis om ʼn verduideliking begin reeds so lank gelede as wat Oregan Hoskins president van SARU was. In 10 jaar se tyd het ons rugby baie min vordering getoon om spelers van enige kleur sodanig toe te rus dat ons weer die gevreesde Springbokke geword het. Daar is genoeg spelers van elke ras en kleur om ʼn dinamiese Bokspan op te maak, maar ons het ingekoop in ʼn verloorkultuur.
Statistiek sê daar is 350-plus spelers wat vir die Bokke gekies kan word wat internasionaal speel. Dis nie net spelers wat hul sell-by-date bereik het nie, dis jong spelers wat ʼn Springbokloopbaan kon hê. Dit pla SARU blykbaar nie. Eerder só; as dit nie die afrigter plan nie, pla dit SARU nie.
Saterdag na Saterdag is duidelik dat die Springbokke geen wedstrydplan het nie. Dit word ʼn algemene rondhardloop en rondgooi van die bal. Warren Whitely beaam dit na Saterdag se Italiaanse fiasko: “ ons as spelers moet na mekaar kyk en onsself afvra wat het gebeur, daar was ʼn goeie plan maar op die veld het dit nie gewerk nie”.
Intussen skep Toetie nie die indruk dat hy die “mini-krisis” (Breyten Paulse se woorde) onder beheer het nie.
(Breyten, die land het ʼn 125-jarige trotse rugbygeskiedenis, waarvan jy deel is. Om teen Japan, Ierland, Argentinië en dan Italië te verloor is nie ʼn mini-krisis nie! Dis ʼn helse crash…)
Toetie vra, duidelik onseker in die onderhoud na die wedstryd: “is die groep rondom my goed genoeg; ek weet nie ons sal daaroor praat want daar is kaarte gedeel en nie noodwendig goeies nie, en met die kaarte moet ek klaarkom, ek kla nie nou nie, maar ons is in ʼn gat.”
En dan, asof die spelers, administrateurs en afrigters iets sal laat val; “ek het nie die kleedkamer verloor nie, anders het ek geloop, iewers moet elke ou nabetragting doen en met homself praat oor sy vertonings.”
Dit klink soos ʼn afrigter wat nie weet wat sy opdrag aan sy spelers is nie. Dit klink soos iemand wat uit radeloosheid als probeer en alweer nie slaag nie.
Whitely se kommentaar bevestig dit; hulle het ʼn plan tot op Saterdag-oggend, maar Saterdag-middag as hulle opdraf, is dit elkeen vir homself, en die spel word planloos.
‘Wat is die Springbokke se speelplan?”, vra John van Rensburg Saterdag vir Werner Swanepoel wat saam met hom uitsaai. “Dis seker dat die voorspelers voor speel en die agterspelers agter”, spot Smiley.
Snaaks en hartseer.
SARU se Mark Alexander het kwaai geklink na die Italiaanse vernedering: ”ons sal na afloop van die toer ‘n gesprek hê want die hele land is ontevrede met die Springbokke se vertonings, ons sal vrae vra en dan kyk na ingrypings wat sal moet kom.”
Of Alexander se dreigement die ontslag van die hele afrigtingskaboedel gaan beteken, sal ons moet sien. Of hy die kahoenas het om vir Fikile Mbalula weg te jaag uit rugby, is nog ʼn vraag, maar hoe dit ookal sy, soos een kollega opmerk “geen Kumbaya indaba van twee dae ruk SA Rugby uit die gemors nie.”
Terug by Coetzee, wat graag pa staan vir die “gat” waarin die Springbokke hulle bevind.
Hoskins was vir 10 jaar SARU se president. Hy is weg en Jurie Roux en sy raad onder die leiding van Alexander sal drastiese stappe moet neem, met of sonder Mbalula.
Dit het tyd geword om rigting te gee aan Toetie en wie ookal sy adjudante gaan wees in 2017. Een van die rigtingwysers is om die kundigheid in te koop van oud-spelers, oud-afrigters (Jake White?) en oud-administrateurs.
As die kleine Nieu Seeland dit kan regkry om hul rugby regdeur vanaf skool tot elite vlak te bestuur, kan ons ook. Dis tyd om daardie kahoenas uit te haal en te besluit oor oorsese spelers, afrigters wat ervaring het en oud-spelers wat wil betrokke raak om spelers te mentor op ʼn gereelde en deurslaggewende basis.
Victor Matfield praat verlede Maandag daaroor op Superrugby: “ kry die Fourie du Preez’s en al die ander spesialis spelers, stel hulle aan om met alle spelers te werk, van skool af, skep ʼn rugbykultuur waar ons van wegkom uit kwotas…daar is genoeg spelers met talent en alle kleure wat vir die Springbokke kan speel…mentor hulle.”
Dis tyd om druk op SARU en Mark Alexander te plaas om toe te sien dat die hoofafrigter, of dit nou Coetzee bly of nie, die regte mense om hom het om af te rig.
Dis tyd dat Ian Schwartz wat onder Heyneke Meyer van die beste talent wat die Bulle nog gehad het gaan soek het, weer so maak.
Dis tyd om die onder die 350 manne in die buiteland diesulkes te gaan soek wat vir die Springbokke wil speel en hulle hier te hou.
SARU is Suid Afrikaanse rugby se voog. Dis die rugby wat van Kaapstad tot Messina gespeel word.
As Jurie Roux gif in Mark Alexander se oor fluister, moet dit stop of hy moet waai. As dit die publiek se optrede vereis, dan doen ons dit. As dit nodig is om SARU se konstitusie weer te bekyk, doen dit.
Maar dit kan nie alleen gedoen word nie, net so min as wat die Springbokke alleen skandes gemaak het. Die Springbokke is ons span. Ons sal moet help.
Dan alleen kan ons weer die span word waarna die All Blacks met respek uitsien om teen te speel.
En ons weer jong seuns se beste span in die wêreld word.
Related Posts
« Black Ferns Sevens name four new players in squad for season opener in Dubai Brown steps down, Snyman to take over as Springbok Sevens captain »